Poëtiese teks oor hoop en verlies tref sekuur
2012-12-10 01:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Die Burger op
Charles Worley het geskok, maar sy gewraakte opmerking het toe tog positief vrugte gedra.
Vroeër vanjaar het Worley gesê gays en lesbiërs moet in konsentrasiekampe gesit word waar hulle uiteindelik kan uitsterf sonder om voort te plant.
Kyk ’n mens na wat byvoorbeeld in Uganda aan die gebeur is, en selfs net na korrektiewe verkragting op ons voorstoep, sien jy dat baie ander sy sentiment deel.
Nou by die positiewe: Philip Rademeyer het die stelling gevat en op sy kop gedraai. Hy bied aan ’n jong man die kans om diep in sy siel te gaan delf en met sensitiwiteit oor sy lewe en verhoudings te praat. Hy praat met sy familie, soms praat hy sommer net.
Gideon Lombard sit in die kollig. Aan die een kant is dit ’n gevangenis. Eers later besef ’n mens wat die ‘‘misdaad’’ is waarvoor hy moet boet.
Vir die gehoor is die ruimte aan die ander kant amper ’n beskermende borrel waarin hy kan praat en praat en praat, en sit en sit, en is en is.
Min akteurs kan dit regkry om ’n marathon binne ’n beperkte ruimte hardloop. Lombard kry dit reg om dit op een kolletjie, op een ongemaklike stoeltjie, reg te kry.
Die indruk word gewek dat hy neerkyk op ’n plek van verwoesting. Sy laaste wens is om ’n video te kry waarop onderhoude is met verskillende mense wat ’n indruk op hom gemaak het.
Gabriel glip moeiteloos in verskeie karakters se vel. Sy is onder meer hekwag, bestuurder, engel, gewese geliefde, die kind wat hy nooit sal hê nie, suster, pa en ma.
Elkeen is ’n perfekte klein kamee wat met min woorde eintlik so baie sê. Die pa weet dat sy seun iewers vanuit die sterre op hom afkyk.
Die ma is die een wat jou die meeste aangryp. In haar klein wêreld waar sy nog haar plastiekhandskoene dra, vir waarskynlik skottelgoed was, en haar klein figuur in ’n soortgelyke ligkol, slaan sy jou vierkantig in die midderif.
Die teks hanteer verlies, hartseer, herinneringe en hoop. Dis diggeweef, dis digterlik, dis briljant.
Gemeet aan vorige werk wat die klein geselskap Rust Co-operative al gedoen het, het mens iets uniek verwag. Dat jy die teater snikkend en totaal oorweldig gaan verlaat, kon mens egter nie voorsien nie.
- Die Burger